SA mense hou kontak op webwerf

Jul 07 2003 09:53:18:000PM

SAReunited.com, 'n webruimte wat Suid-Afrikaners oor die wêreld heen in kontak hou met mekaar, het gister sy eerste verjaardag gevier.


RAJAA AZZAKANI

JOHANNESBURG. - SAReunited.com, 'n webruimte wat Suid-Afrikaners oor die wêreld heen in kontak hou met mekaar, het gister sy eerste verjaardag gevier.

Dié webwerf is op 7 Julie verlede jaar begin sodat Suid-Afrikaners, ongeag waar hulle is, ou kennisse kan opspoor en in voeling met vriende kan bly.

Me. Amanda Tsinonis, medestigterslid, het die ruimte ontwerp nadat sy kontak met vriende verloor het.

"Suid-Afrikaners hou daarvan om kontak te behou. Dit blyk duidelik uit die leefstyl van die duisende Suid-Afrikaners wat oorsee toer en werk.

"Met meer as 300 000 van ons wat in Londen woon, is ons geneig om mekaar se geselskap op te soek. Dié webruimte skep daardie geleentheid," het Tsinonis gesê.

Sy het gesê die webruimte is baie gewild oorsee én plaaslik en tot dusver het Johannesburg met 21 568 die meeste lede, gevolg deur 15 518 lede in Kaapstad, 14 045 in Londen en 10 840 in Pretoria.